Minister gekap oor 'Slutwalk'-grap
2011-08-20 23:15
Anja Carstens
Kaapstad – Suid-Afrika se minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba, moes Saterdagaand vure doodslaan nadat hy uitlatings op Twitter oor die Slutwalk-veldtog gemaak het.
Vroeër die dag het sowat 2 000 mense in Kaapstad aan die Slutwalk deelgeneem om te wys dat vroue enigiets kan dra sonder om seksuele teistering te moet vrees.
Die sogenaamde Slutwalks het in Toronto, Kanada ontstaan nadat 'n polisiebeampte in dié stad opgemerk het dat vroue verkragting kan voorkom deur meer konserwatief aan te trek.
Gigaba het Saterdagaand op sy Twitter-profiel getweet: "Kom ons praat oor die Slutwalk. Ek wil ook graag saamstap, dalk staan ek 'n kans." (die tweet is sedertien verwyder)
Twitter-gebruikers het Gigaba dadelik op sy onkunde gewys.
"Wanneer gaan dit onaanvaarbaar wees vir SA-ministers om grappe oor verkragting te maak?," het SamWilson getweet.
Die adjunk-minister van wetenskap en tegnologie, Derek Hanekom, het getweet: My liewe vriend Malusi. Ek weet jy het net 'n grap gemaak. Maar moenie verras wees oor die reaksie wat jy gaan kry nie.
Gigaba het later getweet: "Ek het nou eers gehoor waaroor die Slutwalk eintlik gaan. Jammer ek het dit heeltemal misverstaan. Alle mans behoort die veldtog te ondersteun."
Twitter-gebruikers het 'n beroep op die minister gedoen om op 24 September aan die Slutwalk in Johannesburg deel te neem en te bewys dat Suid-Afrikaanse mans verkragting ernstig opneem.
– Nuus24