Minister gee R2 milj. uit op meubels
2013-02-17 12:57
Johannesburg – Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, het na bewering R2,1 miljoen in openbare fondse gebruik om haar departement se hoofkantoor te versier, het Sunday Independent berig.
Alhoewel die departement verantwoordelik is vir sy eie aankoop van meubels, is die meubels vir die ministerie, veral die minister se kantoor, deel van die departement van openbare werke se begroting, het die koerant berig.
Xingwana se woordvoerder, Cornelius Monama, het aan die publikasie gesê daar was geen meubels toe die minister by haar nuwe kantoor in Pretoria ingetrek het nie.
“Die meubels wat sy gebruik het toe sy by die Uniegebou was, is in die presidensie gelos.”
“In haar Kaapstadse kantoor, is die minister nog besig om die vorige minister se meubels te gebruik,” het die woordvoerder gesê.
Monama erken die departement het in een geval ‘n kwotasie van slegs twee diensverskaffers gekry. Volgens amptelike regulasies moet drie kwotasies bekom word.
Volgens hom het die minister ‘n ondersoek na hierdie voorval van stapel gestuur.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA