Minister gaan blykbaar swyg oor huurkontrak
2011-09-09 08:06
Kaapstad. – Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, staan op die punt om die openbare beskermer se bevindings oor die peperduur aankoop en huur van kantore vir die polisie in Pretoria en Durban te ignoreer.
Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het op 14 Julie bevind Mahlangu-Nkabinde moet binne 60 dae ná die bekendstelling van die verslag haar optrede aan haar kabinetskollegas verduidelik.
Daardie 60 dae is Dinsdag verby.
Dit beteken Woensdag se kabinetsvergadering was waarskynlik die laaste geleentheid vir die minister om haarself te verantwoord.
Jimmy Manyi, kabinetswoordvoerder, het Donderdag by navraag gesê die kwessie het nie by die kabinetsvergadering ter sprake gekom nie.
John Steenhuisen, DA-LP, het in reaksie gesê dis onaanvaarbaar dat ’n bevinding van die OB dat ’n minister onwettig opgetree het, só geïgnoreer word.
Hy het uitgewys dat Mahlangu-Nkabinde reeds twee keer ’n verskoning gevind het om nie op te daag wanneer die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke haar gevra het om haar gedrag te verduidelik nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger