Minister beheer VOO-kolleges dalk self
2011-07-05 09:44
Kaapstad. – ’n Wetsontwerp wat die Grondwet sal wysig om aan dr. Blade Nzimande totale beheer oor kolleges vir verdere onderwys en opleiding (VOO-kolleges) te gee, kan binnekort deurgevoer word.
Dié wetsontwerp is onlangs in die parlement ter tafel gelê.
Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het LP’s vroeër vanjaar in sy begrotingstoespraak daaraan herinner dat hy vasbeslote is om VOO-kolleges en volwasse onderrig ’n nasionale funksie te maak.
Dit is tans ’n gelyklopende funksie van nasionale en provinsiale owerhede.
Ten einde die provinsiale magte aan die nasionale departement van hoër onderwys oor te dra, sal die Grondwet egter gewysig moet word.
Nzimande voer aan dat die verdeling van die voormalige departement van onderwys in een van basiese en een van hoër onderwys dit noodsaaklik maak dat sekere bevoegdhede “geherorganiseer” word. Derhalwe sal dit sin maak om VOO-kolleges en volwasse onderrig onder sý beheer te plaas.
Dr. Wilmot James, DA-LP, het sterk kapsie gemaak teen die voorgestelde wysiging, omdat dit uiteindelik sal beteken dat VOO-kolleges se funksies gesentraliseer word. Volgens hom sal dit die provinsiale stelsel van onderwys ondergrawe.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger