Minister: 'Nasionalisering is nié beleid'
2011-11-02 22:00
Johannesburg – Nasionalisering van die land se myne is nie die beleid van die regering of dié van die regerende party nie, het die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu, Woensdag gesê.
“Ek is volledig bewus dat my eie herhaalde versekerings, asook verskeie stellings deur die regering en ons president, nie die beleggers se besorgdheid in dié opsig verwyder het nie,” het sy gesê in ‘n toespraak wat voorberei is om by ‘n internasionale mynkonferensie in Londen gelewer te word.
“Dit maak nie saak hoe dikwels ons regering die voor die hand liggende – dat nasionalisering nie Suid-Afrikaanse regeringsbeleid of ANC-beleid is nie – stel nie, die omstredenheid en moontlike vrese wil net nie verdwyn nie.”
Shabangu se kommentaar oor nasionalisering volg op die ANC-Jeugliga se optog vir “ekonomiese vryheid” verlede week.
Die liga het nasionalisering van die land se myne geëis.
Shabangu het gesê haar party het nog nie afgewyk van die beleid van ‘n gemengde ekonomie wat hulle sedert 1994 volg nie.
“Hierdie stryd (oor die kwessie van nasionalisering) is al vir ‘n lang tyd daar en ek is seker dit sal voortduur – en dit behoort voort te duur, aangesien dit ‘n vereiste vir ‘n lewendige demokrasie is,” het sy gesê.
“Dit is egter die ANC wat in mag is en nie gedeeltes wat die breë kerk van die ANC opmaak nie. Dit is dus ANC-beleid wat sal seëvier en niks anders nie.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA