Minderjarige bevoeg vir ET-hofsaak
2010-04-14 13:25
Johannesburg – Die minderjarige verdagte wat verdink word van die moord op die ontslape AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, is na bewering bevoeg om voor die hof te verskyn.
“’n Voorlopige ondersoek is voltooi en die hof het bevind dat my kliënt bevoeg is om voor die hof te verskyn,” het die 15-jarige verdagte se prokureur, Zola Majavu, Woensdag buite die landdroshof in Ventersdorp gesê.
Die jeugdige het vir sy eie veiligheid besluit om nie aansoek te doen om borgtog nie. Hy sal in ‘n plek van veiligheid bly tydens die verloop van die hofsaak.
“My kliënt verstaan wat besig is om te gebeur in die hof en verstaan die aanklagte teen hom,” het Majavu gesê.
“Die seun is gelukkig waar hy nou is. Hy het ‘n bed en kry drie maal ‘n dag kos. Iets wat hy nie voorheen gehad het nie,” het hy gesê.
Volgens Majavu was hy geskok deur die media se uitlatings dat daar moontlik ‘n seksuele aspek tot die moord was. Beide hy en die AWB het hierdie gerugte ten sterkste ontken.
Die seun sal weer op 14 Mei in die hof verskyn.
- Sapa