Minder jonges steun Zuma
2012-11-06 15:43
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma se steun onder jong Suid-Afrikaners is die laagste ooit, het 'n opname getoon.
Die opname wat deur Pondering Panda, ’n verbruikersnavorsingsmaatskappy, gedoen is, toon dat Zuma se steun onder jongmense vanaf 40% in Julie tot 32% gedaal het.
"Slegs een uit drie Suid-Afrikaners dink Zuma kwyt hom goed van sy taak as president van die land."
Altesaam 3 371 Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 18 en 34 het einde Oktober aan die opname deelgeneem.
Pondering Panda het gesê 36% van jong, swart Suid-Afrikaners het gesê hulle is gelukkig met die president.
In teenstelling hiermee, het slegs 17% van wit respondente, 11% bruin respondente en 13% Indiërs gedink Zuma kwyt hom goed van sy taak.
Zuma se steun onder al die rassegroepe het, in vergelyking met 'n opname in Julie, gedaal.
Die president het die meeste ondersteuning van die jeug in KwaZulu-Natal ontvang, met 48% van hulle wat sy leierskap goedkeur.
Sy steun in die Wes-Kaap is die laagste op 18%.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA