Min weet van Zuma-hulplyn
2010-04-27 09:25
Liesl Peyper, Die Burger
Kaapstad - Minder as die helfte van alle Suid-Afrikaners is bewus daarvan dat pres. Jacob Zuma ’n hulplyn het waar hulle uiting aan hul klagtes kan gee.
Dít blyk uit ’n meningspeiling wat die marknavorsingsgroep Ipsos Markinor laat verlede jaar gedoen het.
Zuma se presidensiële hulplyn is in Oktober verlede jaar te midde van luide trompetgeskal bekend gestel.
Maar ’n maand nadat dit in werking gestel is, het slegs 45% van die deelnemers aan die Ipsos Markinor-peiling te kenne gegee hulle weet daarvan.
Zuma se hulplyn (wat ingestel is om dienslewering te probeer verbeter) ontlok ook gereeld kritiek van opposisiepartye. Veral die DA trek daarteen te velde omdat operateurs oproepe nie vinnig genoeg beantwoord nie en baie klagtes nie betyds – of nooit – opgelos word nie.
Die Burger het onlangs berig dat meer as 190 000 oproepe sedert die hulplyn se instelling in Oktober verlede jaar ontvang is. Dit is luidens statistieke wat die oproepsentrum van die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) – wat alle inkomende oproepe hanteer – bekend gemaak het. Sowat 45 000 klagtes is sedertdien aangemeld, waarvan nagenoeg 20 000 opgelos is.
In die Ipsos Markinor-peiling is deelnemers ook versoek om aan te dui watter vrae hulle aan Zuma sou rig indien hulle ’n oproep na die hulplyn sou maak.
’n Kwart van die deelnemers het aangedui dat werkskepping, regstellende aksie en vaardigheidsontwikkeling die vernaamste onderwerp is waaroor hulle hom sal uitvra. Daarteenoor het slegs 3% van die deelnemers gesê hulle sal met hom oor armoede praat.
Dienslewering, elektrisiteit en die toestand van paaie was die gesprekskeuse van 13% van die deelnemers, terwyl 10% aangedui het dat hulle behuising sou aanroer.