Min jonges in SA teen Malema-straf
2011-11-14 09:12
Bloemfontein – Altesaam 70% van ’n groep jong Suid-Afrikaners onder wie ’n peiling gedoen is, het gesê hulle steun die ANC se besluit om Julius Malema, ANC-jeugleier, vir vyf jaar uit die jeugliga én die ANC te skors.
TNS Research Surveys het in ’n selfoonpeiling die reaksie van 601 respondente getoets en bevind net 30% glo Malema se straf was te fel.
Onder respondente wie se huistaal Engels of Afrikaans is, het 88% gesê die straf is geregverdig.
Onder alle ander respondente was die syfer 66%, terwyl 57% van Sepedi-sprekers (die dominante taal in Limpopo) die straf goedgekeur het. Net 29% het gesê hulle vereenselwig hulle met dit wat Malema sê en doen, terwyl 71% gesê het hulle ondersteun hom nie.
Altesaam 461 van die respondente ouer as 16 jaar was swart en 112 was van ander rasgroepe.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad