'Min behandelingsopsies' vir Joost se siekte
2011-05-13 07:30
Johannesburg - Joost van der Westhuizen het ’n ernstige neurale spiersiekte waarvoor daar min of selfs geen behandeling is nie.
“Die siekte is baie moeilik behandelbaar en ek kan nie sê hoeveel tyd Joost oor het nie. Al wat ek kan sê, is dat dit baie ernstig is – moontlik fataal,” het Van der Westhuizen se persoonlike dokter en jare lange vriend, dr. Henry Kelbrick, Donderdagaand gesê.
Kelbrick, ’n sportgeneeskundige van Pretoria, was ook voorheen die Blou Bulle se spandokter.
“Daar is min tot geen behandelingsopsies vir dié tipe siekte,” het hy gesê.
Van der Westhuizen, oudkaptein van die Springbokke en Blou Bulle, se senuwees wat sy spiere beheer, is besig om hul werking te verloor.
Dit lei tot fisieke kragvermindering en as die toestand vererger, kan dit ernstige respiratoriese probleme veroorsaak. Daarom kan die siekte dodelik wees, het Kelbrick gesê.
Waarom die senuwees hul werking verloor, is egter nog nie duidelik nie.
“Ek en Joost het Paasnaweek by Sun City deurgebring. Ons het in die swembad gestoei toe ek voel sy regterarm is baie swakker as sy linkerarm.
“Ek het niks gesê nie, maar het hom dopgehou. Die Donderdagmiddag het ek agtergekom sy tong sleep effens en hy het ook aan my genoem dat dit soms onwillekeurig gebeur. Dit is toe dat ek besef hier is moeilikheid.”
Kelbrick het Van der Westhuizen die Dinsdagoggend ná die langnaweek om 08:00 na dr. Pieter Kritzinger, ’n neuroloog, in Pretoria geneem.
’n Ernstige spierverwante neurale siekte is gediagnoseer.
’n Tweede neuroloog in Johannesburg het dié diagnose bevestig, het Kelbrick gesê.
Intussen word toetse voortdurend op Van der Westhuizen gedoen om die oorsaak van die siekte te probeer vasstel. Hy sou moontlik gisteraand al in ’n hospitaal opgeneem word om met behandeling te begin.
Volgens Kelbrick is sy toestand nie dieselfde as die virus wat die rugbyspeler André Venter onder lede gehad het nie. Venter het ’n ernstige virusinfeksie gehad wat sy senuweestelsel tot so ’n mate aangetas het dat sy onderlyf verlam was. Hy het sedertdien goed herstel.
“Joost het dit baie, baie erger. Dit is steeds ’n raaisel in die mediese wêreld waarom mense dié tipe siekte kry. Dit is nie dwelm-, spanning- of drankverwant nie,” het Kelbrick gesê.
Van der Westhuizen se reklamebeampte, Bridget van Oerle, het Donderdagaand gesê sy laat in dié stadium geen onderhoude met Van der Westhuizen toe nie.
“Verstaanbaar voel hy nie lekker oor die saak nie.”
Van der Westhuizen se gewese vrou, Amor Vittone, kon nie vir kommentaar bereik word nie.
“Ek en Joost is al vir 20 jaar pelle,” het Kelbrick gesê. “Ons kuier gereeld bymekaar. Dit is vir my baie moeilik.”
Volg Nuus24 op
Twitter
- Die Burger