Miljoene se skade ná storm in KZN
2012-12-11 07:03
Johannesburg – Miljoene rande sal benodig word om mense te help ná 'n erge haelstorm groot skade in KwaZulu-Natal aangerig het, het Nomusa Dube, LUR vir samewerkende regering, Maandag gesê.
Die storm het Sondagaand oor Ladysmith en omliggende gebiede uitgesak.
"Gebiede soos Acacia, Steadville, Tsakane en Modelkloof in Ladysmith word die ergste geraak. Honderde mense is dakloos gelaat," het Dube in 'n verklaring gesê.
Sy het 'n nooddiensspan gelei wat Maandag slagoffers van die storm gehelp het.
Dube het aan inwoners gesê die provinsie se rampbestuurspan monitor die weer, en is gereed om aksie te neem indien nodig.
"Hierdie was inderdaad 'n intense storm, as jy kyk hoe erg die skade is. Ons het almal in die gees van ubuntu nodig om 'n bydrae te maak... dis tyd vir die mensdom om een te wees."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA