Miljoen liter drank in NW in drein afgegooi
2011-09-17 11:53
Potchefstroom – Byna ’n miljoen liter drank, maar nie ’n druppel om te drink nie. Dit was Vrydag die geval by die polisie se eenheid vir openbare orde in Potchefstroom toe 919 341 liter drank ter waarde van R755 000 in dreine weggevloei het.
Die polisie het oor Noordwes heen beslag gelê op die drank, wat onwettig in onder meer sjebiens verkoop is.
Dit het ook tuisgemaakte konkoksies ingesluit wat tot 100% alkohol bevat. Al dié drank, waarop hoofsaaklik in die Paastyd beslag gelê is, is vernietig.
Lt.kol. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder, het gesê veral seksuele en ander kontakmisdade word dikwels onder die invloed van drank gepleeg.
“Ons is ernstig daaroor om die onwettige verkoop van drank stop te sit. Ons is op die oorlogspad.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld