Militêre range ‘sal dissipline verbeter’
2010-03-17 09:13
Lizel Steenkamp, Die Burger
Kaapstad-Die polisie se nuwe militêre rangstelsel is Dinsdag voorgehou as ’n kitsoplossing vir die gebrek aan dissipline en respek onder die land se wetstoepassers.
Hoewel die polisiediens nie amptelik as ’n polisiemag gaan bekend staan nie, sal die nuwe range ’n “kragtiger” stryd teen misdaad inlui en beamptes toerus om hulself te laat geld.
Só het afdelingskomm. Khomotso Phahlane, hoof van personeeldienste, die terugkeer na die apartheidspolisie se rangstelsel aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie gemotiveer. Komiteelede was openlik skepties hieroor.
“Is daar wetenskaplike bewyse dat nuwe range die dissipline gaan verbeter?” het me. Annelize van Wyk, ANC-LP, gevra.
Nog ’n ANC-LP, Gregory Schneemann, het beaam dit is nie ’n towerstaf nie.
Volgens Dianne Kohler Barnard, DA-LP, simboliseer die nuwe range ’n terugkeer na die “donker dae van apartheid”.
“Jul titels is in elk geval ook irrelevant vir misdadigers.”
Die nuwe rangstelsel tree op 1 April amptelik in werking.
“Dis hersien om dissipline terug te bring,” het Phahlane herhaal. Volgens hom is die veranderings net op operasionele vlak en is dit nie nodig om die Grondwet te wysig nie.
Mluleki George, Cope-LP, het volgehou Phahlane se motivering is sinloos, aangesien die benaming van die intreerange – konstabel en sersant – onveranderd bly. “Dit is juis húlle wat gedissiplineerd moet wees. Dissipline hang van die bestuur af.”
Komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof wat reeds na homself as ’n generaal verwys, was nie gister teenwoordig nie.
Volgens Cele gaan die hoofde van polisiekantore as stasiebevelvoerders aangespreek word.
Luidens die voorlegging sal die nuwe ordetekens die polisie nie ekstra geld kos nie en bly lede se salarisse onveranderd.
- Die Burger