'Mik vir kop beteken nie maak dood' – Cele
2012-02-03 17:35
Johannesburg – Die uitlating “mik vir die kop” beteken nie daar word van polisiebeamptes verwag om misdadigers dood te maak nie, het die geskorste nasionale polisiekommissaris Bheki Cele aan die hooggeregshof in Johannesburg gesê, het ‘n berig Vrydag gelui.
Cele, wat Donderdag in die hof was, dagvaar The Sowetan vir laster, het die koerant Vrydag berig.
Cele beweer die koerant het ongebalanseerde stories oor hom gepubliseer en het ‘n foto van hom, toe hy die KwaZulu-Natalse LUR vir veiligheid en sekuriteit was, “gemanipuleer”.
In verwysing met die opmerking “mik vir die kop”, het Cele gesê: “Die uitlating... is gemaak nadat ‘n polisiebeampte dood is. Hy het die misdadiger gejaag en hom in die been geskiet en toe die beampte die verdagte nader is hy doodgeskiet.
“As die polisiebeampte vir die kop gemik het sou die verdagte, eerder as die beampte, begrawe gewees het.”
Hy sê die artikel het ook geïmpliseer dat hy die polisie beveel het om agt mense dood te maak.
“Politieke hoofde van die polisie gee nie bevele aan polisiebeamptes nie. Die artikel het geïmpliseer dat ek die polisie beveel het om daardie mense te skiet, maar dit was eenvoudig nie waar nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA