‘Mighty Man’ skiet drie honde dood
2011-08-07 09:59
Johannesburg – ’n Mighty Men-prediker met ’n dragtige Skotse terriër word deur ’n strafregtelike klag in die gesig gestaar nadat hy sy plaaswerkers se honde doodgeskiet het.
Jurianne Schreuder, koringboer van die plaas Theefontein aan die Weskus wat gereeld saam met Angus Buchan optree, het gesê hy het drie van sy werkers se honde geskiet omdat hulle probleemdiere geword het. Volgens hom was dit die werkers self wat hom gevra het om die honde van kant te maak.
Maar sommige werkers beweer nou die werklike rede dat Schreuder die honde geskiet het, was omdat een van hulle glo Suzy, Schreuder se opregte Skotse terriër, gedek het. Hulle het nou ’n klag van kwaadwillige beskadiging van eiendom by die polisie ingedien.
Schreuder het die afgelope week die drie honde met ’n geleende roer geskiet omdat hulle onder meer “'n oorlas vir die bure was”.
Hy het voorts gesê die werkers het geweet hul kontrakte bepaal dat hulle geen troeteldiere mag aanhou nie.
Hy het hulle verlede Saterdag gevra “om met ’n plan te kom om die honde van die plaas af te kry”.
“Toe hulle nie met ’n oplossing kon kom nie, het hulle gesê: ‘Dan moet Meneer maar skiet.’”
Rosina (Nonkie) Willemse bevestig haar man, Hendrik, het Schreuder “gevra om maar te skiet”.
“Ons was bang Meneer gaan ons van die plaas afsit omdat ons nie ’n plan met die honde kon maak nie.” Sy het gesê haar man het eers gevra of Schreuder nie die Willemse se hond, Meire, dierebeskermingsvereniging toe kon vat nie.
Willemse het gesê die Schreuders was in Mei op vakansie toe hul hond Suzie “hier by ons kom rondloop het – dis waar die moeilikheid begin het”.
Dinsdag het Schreuder glo met ’n bakkie na die werkers se huise gekom en Meire en twee honde genaamd Tiger en Kollie geskiet.
Willemse het gesê: “Dit maak seer dat hy (Schreuder) ’n pastoor is wat soggens vir die werkers by die stoor bid en dan die honde skiet.”
Riaan Boois, Kollie se baas, het die plaas weens die voorval verlaat. Dit was glo Kollie wat Suzie gedek het. Schreuder het Kollie glo “voor die kinders” geskiet.
Schreuder het gesê dit sou “onregverdig wees om nie ook die ander honde te skiet nie”.
“Mev. Willemse is ’n drama queen. Die laaste hond (Kollie) was brandmaer, ondervoed. Dit was vir my vreeslik om ’n hond te skiet terwyl hy my in die oë kyk.”
Schreuder het gesê: “Ek weet in die land is daar boere wat op hul mense trap, maar ek trap nie op my mense nie. Die Here ken my hart – al lyk dit of ek nou honde uitmoor.
“Ek het gevra vir ’n plan. Hulle het gesê skiet. As ek gefouteer, het ek fouteer. Ek sal die klappe vat.”
– Volg Nuus24 op Twitter.