Miernes van korrupsie in Noordwes
2010-10-11 08:05
Volksblad
Klerksdorp - Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het ’n miernes van korrupsie en ander ongerymdhede in Noordwes oopgekrap.
Willie Hofmeyr, hoof van die eenheid, het die naweek ’n verslag oor die stand van sake in vier van die provinsie se munisipaliteite aan Maureen Modiselle, Noordwes se premier, oorhandig.
Daarin word die bestaan van spookwerkers, korrupte betalings, ’n gebrek aan finansiële beheer, die onregmatige toekenning van tenders, die versuim om wanbetalers voor stok te kry en blatante bedrog onder meer onthul.
Die vier munisipaliteite in die spervuur is Madibeng (Brits en Hartbeespoort), Mafikeng, Groter Taung (Vryburg) en Ventersdorp.
Een van die skokbevindings wat uit die forensiese ondersoek geblyk het, is dat in Madibeng nagenoeg 83 betalings van meer as R10,3 miljoen aan twee maatskappye gemaak is waar dieselfde faktuurnommers gebruik is. Die betalings was glo vir die installering van hoëmas-ligte.
Dit is volgens Matshube Mfole, woordvoerder van die Noordwes-regering, hoogs onreëlmatig ingevolge die verkrygingsbeleid. “Dis soos as ek en jy ’n ID-nommer en ’n belastingnommer sou deel.
“Hierdie is maar net een van die voorbeelde,” het Mfole in ’n verklaring gesê. “Tans is daar 28 sake van bedrog van tussen R61 000 en R30 miljoen wat in verskillende fases van ondersoek is. In ander sake wag ons op die beslissing van die senior staatsaanklaer.”
In die Groter Taung is R5,2 miljoen uitbetaal in ses behuisingsprojekte waarvan die vakmanskap swak was en nog R200 000 vir dienste wat nooit gelewer is nie.
In Madibeng word gekyk na korrupte betalings van onderskeidelik R17 000 en R27 000 aan maatskappye wat geen dienste gelewer het nie. Die SOE het voorts bevind tien spookwerkers het vergoeding van dié munisipaliteit ontvang.
Modiselle het gesê korrupsie hou ernstige gevare in vir die regering se planne om dienste aan die armes in die provinsie te lewer. “Hierdie optrede hou ook ’n ernstige bedreiging vir demokrasie in.”
- Volksblad