Metropolisieman soek luukse motors terug
2013-02-11 12:18
Johannesburg – Die Durbanse metropolisiebeampte Sibusiso Mpisane en sy vrou, Shauwn, het 'n dringende aansoek ingedien om hul nege luukse voertuie terug te kry.
Die aansoek is by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien nadat die batebeslagleggingseenheid verlede week beslag gelê het op hul voertuie.
Die paartjie het onvoldoende stoorplek vir die voertuie as rede vir die aansoek aangevoer. Hulle het ook gevra dat Trevor White as kurator in die verrigtinge verwyder moet word, het The Star berig.
Shauwn Mpisane het in hofdokumente aangevoer dat sy vir die vervoer en verskuiwing van die voertuie moet betaal en dat die stoorkostes "my boedel en dié van my gesin vinnig gaan uitput".
Beslag is gelê op nege luukse voertuie. Dit sluit in twee Rolls Royce-motors, twee Porches, 'n Maserati, 'n Ferrari, 'n Lamborghini en twee Hummers, het OFM Woensdag berig.
Die batebeslagleggingseenheid het ook op twee huise en 'n sake-onderneming beslag gelê.
Die egpaar se sake-onderneming het tenders te waarde van miljoene rande van die Ethekwini-munisipaliteit ontvang.
Die Mpisanes word in die hooggeregshof in Durban van bedrog, korrupsie en belastingontduiking aangekla.
"Omdat sy binne gemeenskap van goedere getroud is, sluit dit al die paartjie se eiendom in," het die nasionale vervolgingsgesag vroeër gesê.
Die staat het tot Donderdag kans om op die aansoek te reageer, waarna die paartjie tot volgende Dinsdag kans sal hê om weer te reageer. 'n Verhoordatum sal daarna vasgestel word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA