Metropolisielid vir Bees-saak geroep
2010-12-10 13:08
Pretoria - ‘n Metropolisiebeampte van Tshwane is Vrydag beveel om by die volgende hofverskyning van die Blou Bul-rugbyspeler Jacobus Stephanus “Bees” Roux te wees.
Hooflanddros Desmond Nair het dié bevel gemaak nadat Roux se regsverteenwoordiger Rudi Krause in die volgepakte hofsaal gesê het hy het die beampte, bekend as Leonard Erasmus, gedagvaar om met sekere dokumentasie te verskyn.
Krause het gesê Erasmus het nie die dokumente saamgebring nie. Dit is nie in die hof gesê wat dié dokumente bevat nie.
Roux, wat op R100 000 borgtog vry is, word beskuldig van die moord op die 38-jarige metropolisiebeampte Ntshimane Johannes Mogale in Augustus.
Nair het ‘n bevel toegestaan dat die R100 000 borgtog na ‘n waarborg omgekeer kan word waarin Krause se firma aanspreeklik gehou sal word as Roux nie sy borgvoorwaardes nakom nie.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolginsgesag (NVG), het ná Roux se verskyning gesê hy was bewus van die dokumente, maar het die redes agter Roux se regsverteenwoordiger se pogings om die dokumente te kry, bevraagteken.
“Ons is bewus van die aard van die dokumente, maar ons bedenkinge oor die hele subpoeana is die feit dat daar blykbaar ‘n poging is om ‘n parallelle ondersoek van stapel te stuur, terwyl die polisie die saak ondersoek. Daar is ‘n vrees dat die polisie se ondersoek deur die ander een benadeel kan word.”
Hy het gesê Roux se regspan het nog nie kopieë van die bewysstukke wat in ‘n verhoor in die Hooggeregshof gebruik sal word, ontvang nie.
Die ondersoek is “in ‘n gevorderde stadium” en al die dokumentasie sal teen die einde van die jaar aan Roux se regspan oorhandig word.
William Baloyi, woordvoerder van die metropolisie, het gesê Erasmus is ‘n beampte in die departement se afdeling van interne ondersoeke.
Hy het geweier om kommentaar te lewer toe hy die landdroshof in Pretoria verlaat het.
Die hofsaal was volgepak met verslaggewers, nuuskieriges en metropolisiebeamptes.
Roux het ook geweier om met die media te praat, maar sy agent, James Adams, het gesê sy regspan is gefrustreerd omdat hulle nog nie die dokumentasie ontvang het nie.
Hulle is egter nou tevrede met die versekering van die hof dat hulle wel die dokumentasie sal ontvang.
Die saak is tot 8 Februarie uitgestel.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA