Metropolisielid vas ná man se sodomisering
2011-02-21 09:20
Pretoria – ’n Metropolisielid (29) van Pretoria-Noord is Vrydagnag by sy huis in hegtenis geneem nadat hy ’n 26-jarige man glo Donderdagaand langs ’n pad in die Pretoriase Moot gesodomiseer het.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die betrokke metropolisielid het Donderdagaand na bewering saam met dié man by ’n drinkplek in die Moot gekuier.
“Nadat hulle klaar gekuier het, het die metropolisielid glo aangebied om die 26-jarige man huis toe te vat.
“Omstreeks 23:15 het hy egter na verneem word in 15de laan in die Moot skielik van die pad getrek en die man gesodomiseer,” het Ndou gesê.
Die metropolisielid het glo die man se selfoon by dié afgeneem en hom net daar langs die pad gelos en weggery.
“Die man het die polisie genader en ons het vasgestel waar die betrokke metropolisielid woon en het hom by sy huis gaan arresteer,” het Ndou gesê.
Die metropolisielid sal na verwagting vandag op aanklagte van verkragting en diefstal in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld