Metropolisielid omgery
2009-09-06 18:10
Durban – ‘n Metropolisielid is ernstig beseer toe hy Sondag deur ‘n taxi omgery is, het paramediese werkers van KwaZulu-Natal gesê.
“Die man van die Metropolisie was net by sy bestemming afgelaai toe ‘n taxi hom getref het en veroorsaak het dat hy oor die teer gesleep word,” het Derrick Banks, woordvoerder vir ER24 gesê.
Die ongeluk het ongeveer 12:00 op die N3 in die rigting van Durban by die kruising van Commercial- en Alicestraat plaasgevind..
Toe die paramediese werkers op die toneel kom het hulle die man in die nood-baan van die hoofweg gekry waar hy deur ‘n ander metropolisielid en ‘n mediese werker behandel is.
Die man het ernstige kopbeserings opgedoen en hy moes lewensondersteuning ontvang om aan die lewe te bly.
Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die taxi is sowat 300m van die ongeluk af gevind en die bestuurder is na ‘n polisiestasie geneem vir ondervraging.
- Sapa