Metropolisielede vas wat drank gaps
2011-01-20 23:00
Johannesburg - Agt Gautengse metropolisiebeamptes is uitgevang nadat hulle alkohol gesteel het wat op die N12 buite Potchefstroom van ‘n SAB-vragmotor geval het.
Die beamptes, wat tussen 25 en 39 jaar oud is, is deur ‘n senior polisiebeampte betrap waar hulle “volumes” drank in hul amptelike voertuie gelaai het, het lt. kol. Lesego Metsi, polisie-woordvoerder, gesê.
Volgens die vragmotorbestuurder het die seil, wat die waentjie bedek het, afgewaai en het laaiplanke met die alkohol tot op die pad geval. Die bestuurder het die metropolisie geskakel toe motoriste aan hom beduie het dat hy ‘n gedeelte van sy vrag verloor het.
“Dit word beweer dat die beamptes, pleks daarvan om ander padverbruikers wat die drank wil steel te keer, bloot die drank vir hulself geneem het.”
Bystand is deur die senior polisiebeampte wat hulle betrap het ingeroep en hulle is in hegtenis geneem.
Hulle sal binnekort in die landdroshof op Potchefstroom verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter