Metropolisielede vas oor seun se verdwyning
2010-10-13 23:18
Johannesburg - Twee metropolisielede van Tshwane is Woensdagmiddag in hegtenis geneem in verband met die verdwyning van ‘n Zimbabwiese tiener wat verlede maand in aanhouding was, het die Gautengse polisie gesê.
Leon Chimuta en vier ander Zimbabwiërs het sigarette en ander items in Pretoria se middestad verkoop toe hulle deur die metropolisielede in hegtenis geneem is, het kapt. Katlego Mogale gesê.
“Hulle is daarvan beskuldig dat hulle regulasies oortree het deur die items onwettig te verkoop. Hulle is toe na bewering deur die metropolisielede ontvoer.”
Die beamptes, onderskeidelik 34 en 38 jaar oud, het beslag gelê op hul goedere en met hulle weggery. Hulle het die Zimbabwiërs na bewering aangerand en hulle op verskeie plekke buite Pretoria afgelaai.
Chimuta is laas gesien toe hy saam met die beamptes was. Hy is nog nie opgespoor nie.
- Volg Nuus24 op Twitter