Metropolisielede vas oor gesteelde kar
2009-07-30 06:38
Twee Tshwane-metropolisielede wat ’n splinternuwe motor wat pas gesteel is na ’n woonstel in die Pretoriase middestad “begelei” het, is saam met die dief en nog ’n man toegesluit.
Die dief het gisteroggend nonchalant in ’n splinternuwe VW Golf 6 geklim en weggery net nadat dit van ’n vervoervragmotor by ’n motorhandelaar in Menlyn, in die ooste van Pretoria, afgelaai is.
Die vragmotor het ’n besending nuwe motors by die motorhandelaar afgelaai.
Volgens mnr. Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metroraad se departement van gemeenskapsveiligheid, was die sleutel in die motor.
Die dief het in die motor geklim, dit aangeskakel en ’n paar meter weggery, waar hy ’n sersant van die Tshwane-metropolisie se botsingseenheid wat in sy uniform geklee was, opgelaai het. Hulle het ’n draai gery, waarna die metropolisielid afgelaai is.
Die metropolisielid het na sy gemerkte metropolisievoertuig geloop.
’n Vroulike metropolisielid, wat ook ’n uniform aangehad het, het in die voertuig gesit.
“Die metropolisielede het saam met die man in die motor na ’n woonstel in die Pretoriase middestad gery,” het Tleane gesê.
’n Neef van die sersant het die hek en ’n motorhuisdeur by die Nyasa-woonstelblok in Andriesstraat, waar die sersant woon, vir die man oopgemaak. Volgens Tleane het die polisie inligting oor die diefstal ontvang en die dief en die metropolisielede tot by die woonstelblok gevolg.
Hulle is gearresteer oomblikke nadat die Golf in die motorhuis geparkeer is.
Die metropolisielede en gearresteerde mans is vermoedelik deel van ’n motordiefstalsindikaat.
Tleane het gesê die metropolisielede sê hulle weet van geen sout of water nie. Die sersant beweer die dief is ’n vriend van hom van Springs wat ’n nuwe motor by Menlyn gekoop het.
Hy sou die vriend dáár ontmoet, waarna hulle saam na sy woonstel in die middestad sou gaan.
Die metropolisievrou het beweer sy het puntdiens in die stad gedoen en het net ’n saamrygeleentheid saam met die sersant kantoor toe geneem.
Me. Bongi Lehobye, ANC-burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het gesê dié saak sal, buiten vir die polisie se ondersoek, ook intern ondersoek word.
“Die nodige tugstappe sal teen hulle gedoen word indien bevind word daar was ’n oortreding,” het Lehobye gesê.
“Dit is net twee metropolisie?lede hierdie wat na bewering by die voorval betrokke was. Dit is nie die hele departement nie.
“Ons wil ’n sterk boodskap stuur dat die gemeenskap ons moet vertrou. Ons gaan nie toelaat dat individue ’n negatiewe uitwerking op die departement het nie.”
Die metropolisielede en twee mans sal binnekort in die hof verskyn.
-Beeld