Metropolisielede se drank-saak uitgestel
2011-01-21 23:00
Johannesburg - Die saak teen die agt metropolisiebeamptes wat uitgevang is nadat hulle glo alkohol gesteel het wat op die N12 buite Potchefstroom van ‘n SAB-vragmotor geval het, is uitgestel.
Volgens lt. kol. Junior Metsi, polisiewoordvoerder, is die beamptes elk op R1000-borgtog vrygelaat en sal hulle saak op 17 Februarie voortduur.
Die beamptes, wat tussen 25 en 39 jaar oud is, is deur ‘n senior polisiebeampte betrap waar hulle “volumes” drank in hul amptelike voertuie gelaai het.
Die waarde van die alkohol word geskat op sowat R60 000.
Volgens die vragmotorbestuurder het die seil, wat die waentjie bedek het, afgewaai en het laaiplanke met die alkohol tot op die pad geval. Die bestuurder het die metropolisie geskakel toe motoriste aan hom beduie het dat hy ‘n gedeelte van sy vrag verloor het.
"Dit word beweer dat die beamptes, pleks daarvan om ander padverbruikers wat die drank wil steel te keer, bloot die drank vir hulself geneem het.”
Volg nuus24 op Twitter.
- SAPA