Metropolisiebeamptes in hegtenis
2011-12-24 09:53
Johannesburg – Twee metropolisiebeamptes van Tshwane is Vrydag in hegtenis geneem – een vir die aanvaarding van omkoopgeld en die ander vir dronkbestuur.
Die eerste, ‘n konstabel, is Vrydagaand in hegtenis geneem nadat hy na bewering omkoopgeld van ‘n vragmotorbestuurder ontvang het, het Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie gesê.
Hy is betrap toe beamptes van ‘n hoër rang gaan kyk het hoe hy voertuie aftrek vir padwaardigheidstoetse.
“Dit was baie duidelik dat die voertuig ‘n fout met sy ligte gehad het, wat ‘n boete regverdig. Toe die bestuurder na sy vragmotor teruggekeer het, het hy nie ‘n strokie vir ‘n boete gehad nie en het erken dat hy omkoopgeld betaal het.”
Die beampte was nie daarvan bewus dat hy dopgehou is nie. Hy is in hegtenis geneem en word by die Mamelodi Oos-polisiekantoor aangehou.
Die tweede beampte is in hegtenis geneem toe hy omstreeks 16:30 op die R566 buite Brits in Noordwes afgetrek is, het die provinsie se departement van openbare veiligheid gesê.
Die 25-jarige beampte, wat in ‘n VW Jetta gery het met twee passasiers, kon nie ‘n bestuurderslisensie wys nie, het Lesiba Kgwele, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Hy is na die Brits Provinsiale Hospitaal geneem om ‘n bloedmonster te laat neem. ‘n Asemtoetser het getoon hy was twee maal oor die wettige alkohol-limiet.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA