Metropolisie teiken polisie
2011-03-11 09:11
Johannesburg - Tshwane se direkteur van gemeenskapsveiligheid het metropolisielede opdrag gegee om streng op te tree teen polisielede wat verkeersoortredings begaan.
Metropolisielede moet polisielede in hegtenis neem wanneer nodig.
Genl.maj. Daniel Manganye, Tshwane se direkteur van gemeenskapsveiligheid, het dié opdrag op 7 Februarie gegee in ’n dokument wat Beeld onder oë gehad het.
Manganye het die dokument onderteken.
Skaars ’n maand nadat dié opdrag gegee is, het metropolisie- en polisielede voor die polisie se Maupa Naga-gebou in die Pretoriase middestad handgemeen geraak nadat die metropolisie polisielede se private voertuie wat onwettig geparkeer was, wou wegsleep.
Luidens die dokument het dit onder Manganye se aandag gekom dat “verskeie polisielede hul posisie en gesag as polisie misbruik om na willekeur verkeersoortredings te begaan”.
Manganye het gesê die gevalle waar noodvoertuie verkeerstekens en spoedbeperkings mag verontagsaam, word duidelik in die Padverkeerswet uitgestippel.
“Alle bestuurders van polisievoertuie moet dié voorwaardes nakom,” lui die dokument. Die saak is met senior polisiebestuur op provinsiale en plaaslike vlak bespreek.
Hulle het aangedring dat streng opgetree word teen enige polisielid wat sy of haar mag misbruik om vervolging te vermy wanneer hulle die padverkeerswet oortree.
“Indien dit nodig is, moet die beampte gearresteer word.”
Enige polisielid wat ’n verkeersoortreding (artikels 58(3) en 60 van die Padverkeerswet uitgesluit) begaan terwyl hulle aan diens is, moet ingevolge die toepaslike wetgewing vervolg word, lui die dokument.
Manganye het gesê ’n polisiebeampte wat ’n verkeersoortreding begaan, se besonderhede moet via sy kantoor na die polisie se provinsiale hoofkantoor gestuur word.
William Baloyi, woordvoerder van die metropolisie, het gesê mense het gekla polisielede verontagsaam veral in oggendverkeer die Padverkeerswet, al is daar nie ’n noodgeval nie.
Baloyi het erken hulle kan nie sê wanneer daar wel ’n noodgeval is nie.
Baloyi het gesê dit is gerig op polisielede wat van diens is en dan hul mag misbruik om vervolging te ontduik. “Wanneer daar nie ’n noodgeval is nie, verwag ons van polisielede om die verkeersreëls te gehoorsaam.
“Die gereg moet sy gang gaan rakende polisielede wat van diens is.
“Dit kan nie gebeur dat ons polisielede wat aan diens is, arresteer nie, want hulle het ’n werk om te doen.”
Baloyi het gesê die dokument sal heruitgereik word.
Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê wetstoepassing in Tshwane “stuur op chaos af as wetstoepassingseenhede mekaar begin teiken”.
Volgens Kelder sal dit ’n negatiewe invloed op dienslewering hê.
Mag en moet
Die twee artikels lui dat die bestuurder van ’n brandweervoertuig, ’n noodvoertuig of ’n ambulans wat die voertuig bestuur terwyl hy aan diens is, ’n verkeersbeampte wat ’n voertuig bestuur terwyl hy sy pligte uitvoer of enige persoon wat bestuur terwyl hy met burgerlike beskerming besig is, mag verkeerstekens verontagsaam en die snelheidsgrens oorskry op voorwaarde dat:
- hy of sy wat die voertuig bestuur, die veiligheid van die verkeer in ag sal neem;
- in die geval van ’n brandweervoertuig, noodvoertuig, ambulans waar amptelike pligte uitgevoer word, so ’n voertuig ’n toestel sal hê wat ’n voorgeskrewe geluid maak en ’n werkende, identifiserende lig het terwyl die bestuurder verkeerstekens oortree en die snelheidsgrens oorskry.
- Beeld