Metropolisie ‘sal Bees nie laat rus’
2010-09-03 07:15
Die Burger
Pretoria - Die Tshwane-metropolisie gaan die Blou Bul-stut Bees Roux teister totdat hy die waarheid vertel.
Dir. Ndumiso Jaca, hoof van proaktiewe polisiëring by die metropolisie, het Donderdag tydens sers. Ntshimane Johannes Mogale (38) se roudiens in Pretoria gesê hulle “gaan seker maak dat Bees nie rus nie”.
“Ons gaan padblokkades beman en seker maak dat Bees nie rus nie. Ons gaan ons voorvaders kry om Bees te teister totdat hy die waarheid vertel.”
Margaret Mogale het tydens die roudiens die heeltyd oor haar man gehuil. Die egpaar se kinders, Thato (16), Boitshepo (10) en Oreabetswe (3), het ook die diens bygewoon.
Mogale sal môre in Shakung, noordwes van Pretoria, begrawe word nadat hy verlede Vrydagoggend doodgeslaan is.
Dikeledi Lehobye, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, het gesê: “Vir ’n persoon om met kaal hande vermoor te word, op ’n teerpad, is pynlik, onmenslik, sinneloos en barbaars.
“Geen mens, nie eens ’n dier, verdien om só dood te gaan nie.”
Roux is weens Mogale se moord in hegtenis geneem.
Voor die voorval waarin Mogale dood is, het hy en twee kollegas Roux weens dronkbestuur van die pad afgetrek.
Volgens Jaca het Mogale in Roux se motor geklim om hom huis toe te neem.
“Wie gee om dat Mogale Roux se motor bestuur het?” het Jaca gevra.
“As wetstoepassers is ons elke dag op die pad, waartydens ons ons verstand en oordeel moet gebruik.
“Ek het al verskeie dronkbestuurders in hegtenis geneem. Ek het ook al ’n dronk motoris afgetrek wat vir my vertel hoe sy vrou vermoor of sy kinders verkrag is. Dan besluit ek om die man ’n kans te gee en hom huis toe te neem. Dit is die menslikheid wat daar in ’n wetstoepasser is.”
Oor die feit dat die ander twee metropolisielede nie op die toneel was toe Mogale doodgeslaan is nie, het Jaca gesê mense kan nie oordeel nie.
Div gekap oor steun
“Toe die Springbokke aangekondig het hulle is 100% agter Bees Roux, het ek gebewe.”
Só het dir. Moloko Racheku, streekdirekteur van die
Tshwane-metropolisie, Donderdag by die roudiens van sers. Ntshimane
Johannes Mogale (38). gesê. Hy is verlede Vrydagoggend na bewering deur
Roux, ’n Blou Bul-stut, doodgeslaan.
Racheku het verwys na Peter de Villiers, Bok-afrigter, se uitspraak
vroeër vandeesweek dat hulle Roux ten volle steun, hoewel hulle nie die
daad ondersteun waarvan hy beskuldig word nie.
De Villiers het gesê: “Die span ondersteun... nie die daad nie, maar hoe dit tot daar gekom het.”
Racheku het gesê ’n mens kan van De Villiers se stelling aflei dat
die Springbokke iets van die voorval weet wat die res van die publiek
nie weet nie. Hy wil weet wat dít is.
“Die Springbokke is ’n nasionale span,” het Racheku gesê.
“Ek en my seun is ondersteuners van die Springbokke. Net so was Mogale en sy seun ondersteuners van die Springbokke.
“Mogale is daarop geregtig dat die Springbokke hom moet ondersteun.”
Dir. Ndumiso Jaca, hoof van proaktiewe polisiëring by die
Tshwane-metropolisie, het gesê hy veroordeel De Villiers se stelling ten
sterkste.
- Die Burger