Metropolisie in sop na kuier
2009-08-11 08:00
Johannesburg – Drie metropolisiebeamptes se wapens is gekonfiskeer nadat hulle in ‘n kroeg in Pretoria gekuier het terwyl hulle aan diens was.
Console Tleane, ‘n woordvoerder van Tshwane se departement van gemeenskapsveiligheid, het gesê lede van die publiek het die polisie ontbied nadat die drie beamptes vroeg Dinsdagoggend in hul uniform by ‘n kroeg ingestap het.
“Die polisie het die metropolisiebeamptes se wapens afgeneem voor hulle “vrygelaat” is. Die metropolisie se regsafdeling sal die saak ondersoek. ”
Tleane het gesê die drie beamptes kan moontlik geskors word en klagtes kan teen hulle gebring word omdat hulle die departement se reputasie in gedrang bring.
“Daar word van lede verwag om ten alle tye, veral as hulle aan diens is, die goeie naam van die departement en die polisie in die algemeen te beskerm en uit te dra.”
“’n Polisie-uniform moet gerespekteer word en die waardigheid van die persoon wat dit dra moet duidelik wees,” het Tleane gesê.
– Sapa