Metro-lid vas wat glo omkoopgeld vat
2010-09-16 06:16
Johannesburg - ’n Konstabel van die Tshwane-metropolisie wat deur sy eie kollegas in hegtenis geneem is nadat hy glo omkoopgeld van ’n motoris geneem het, sal Donderdag in die hof verskyn.
Konst. J. Semata (30) is Dinsdagmiddag in hegtenis geneem nadat ’n lid van die metropolisie se teenkorrupsie-en-interne-ondersoeke-eenheid gesien het hoe hy na bewering R100 van ’n motoris wat glo nie sy sitplekgordel gedra het nie, geneem en hom laat gaan het.
“Die Tshwane-metropolisie sal genadeloos optree teenoor lede wat sulke oortredings begaan. Dit sal nie ongesiens verbygaan nie,” het dir. Mel Vosloo, woordvoerder van die metropolisie, Woensdag gesê.
Volgens Vosloo is ’n interne ondersoek na Semata en nog ses van sy kollegas ook begin omdat hulle nie in die Pretoriase middestad was waar hulle veronderstel was om te patrolleer nie.
Vosloo het gesê Semata en sy ses kollegas het omstreeks 15:00 in Michael Brinkstraat naby die Hardy Muller-sirkel in die Pretoriase Moot wetstoepassing gedoen. ’n Lid van die metropolisie se teenkorrupsie-en-interne-ondersoeke-eenheid was op pad om ’n verklaring in ’n ander saak te kry toe hy by die metropolisielede verbyry.
“Hy het onraad vermoed en daar naby stilgehou om die metropolisie dop te hou. Hy het gesien hoe ’n motoris in ’n blou VW Golf deur die metropolisielede afgetrek word.
“Die man het ’n paar keer in en uit sy motor geklim en toe vyf minute later weggery sonder dat ’n boete aan hom uitgereik is.”
Intussen het die ondersoeker om bystand gevra en die beskrywing van die VW Golf deurgegee.
“’n Ander metropolisielid het van sy kantoor daar naby gery en die motoris in die VW Golf opgemerk, afgetrek en gesê hy het pas ’n wetstoepasser omgekoop,” het Vosloo gesê.
“Die motoris het gesê die metropolisielid het hom geld gevra en hy het dit gegee, want hy was bang omdat daar sewe beamptes was. Die motoris was op pad na die Villieria-polisiekantoor om ’n klag teen die lid aanhangig te maak. Hulle is terug na die plek waar die metropolisielede gestaan het. Die motoris het die lid uitgewys en hy is gearresteer.”
Die ondersoeker het Semata deurgesoek en die geld glo by hom gekry. Ná verdere ondersoek is bepaal dat al die beamptes uit hul gebied was.
Hulle is intern aangekla van die pleeg van ’n daad wat skadelik is vir die Tshwane-metroraad. Die moontlikheid om hulle te skors word nie uitgesluit nie.
Ao. Marinda Austin-Swanepoel, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van omkopery en korrupsie word ondersoek.
- Beeld