Metrolid swik toe nie voor taximan se R20
2010-09-13 10:28
Johannesburg – ‘n Taxibestuurder van Johannesburg is Maandag in hegtenis geneem nadat hy glo probeer het om ‘n metropolisielid met R20 om te koop, het Wayne Minnaar, ‘n metropolisie-woordvoerder, gesê.
Die 22-jarige het glo aan die verkeerde kant van die pad in Martindale gery.
Sy passasiers moes glo die taxi verlaat en ander vervoerreëlings tref.
Die man sal later Maandag in die Sophiatown landdroshof verskyn op aanklagtes van omkopery en korrupsie.
“Die boodskap word uitgestuur dat daar ook goeie metropolisie-beamptes is wat nie omkoopgeld sal aanvaar nie,” het Minnaar gesê.
Minnaar het ook ‘n waarskuwing gerig aan motoriste wat omkoopgeld aan metropolisielede probeer gee wat nié korrup is nie, dat hulle in hegtenis geneem en vir korrupsie aangekla sal word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA