Metrolid ruk medikus glo uit ambulans vol pasiënte
2011-10-24 09:06
Pretoria – Die Tshwane-metropolisie het ’n interne ondersoek begin nadat ’n metropolisielid Saterdagaand op ’n ongelukstoneel in die Pretoriase middestad ’n paramedikus na bewering uit ’n ambulans met beseerde pasiënte geruk het.
Sello Makhae, ’n paramedikus van Best Care-ambulansdienste, is glo deur ’n metropolisiebeampte, ene mnr. Chauke, bo-oor beseerde pasiënte uit sy ambulans geruk, in ’n vangwa gesit en gearresteer omdat hy volgens die metropolisielede in hul werk ingemeng het.
“Dis my ambulans dié (die vangwa) en ek sal jou na my hospitaal (die Pretoria-Sentraal-polisiekantoor) neem,” het dié lid glo aan Makhae gesê.
Zander Loubser, operasionele bestuurder van Best Care, het gesê dié onderonsie was Saterdag omstreeks 19:00 nadat Best Care se paramedici op ’n taxi-ongeluk op die hoek van Bosman- en Proesstraat gereageer het.
“Daar was verskeie beseerdes en die bestuurder van die taxi het glo gevlug,” het Loubser gesê.
Best Care se paramedici het volgens hom ’n swanger vrou met ernstige buikpyn en twee ander pasiënte met sagteweefsel- en skraapwonde in ’n ambulans gelaai om hulle na die Tshwane-distrikshospitaal te neem.
“Net toe ons wou ry, het ’n metropolisiebeampte die ambulansdeur oopgeruk en gesê een van ons pasiënte is die taxibestuurder en dat hy nie hospitaal toe mag gaan nie,” het Loubser gesê.
“Makhae en sy kollegas het aan die metropolisielid gesê nie een van die drie pasiënte is die taxibestuurder nie, dat hulle beseer is en hospitaal toe geneem moet word. Hulle het gesê die metropolisie is welkom om die ambulans te vergesel om die pasiënte se verklarings in die hospitaal af te neem.”
Die metropolisielid het Makhae glo toe aan sy skouer uit die ambulans geruk en hom in ’n vangwa gesit sonder om hom formeel in hegtenis te neem.
“Die metropolisiebeampte en sy kollegas het paramedici van ander ambulansdienste ook met arrestasie en met pepersproei gedreig.”
Makhae is op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg gearresteer en tot Sondagoggend by die Pretoria-Sentraal-polisiekantoor aangehou voordat hy op borgtog vrygelaat is.
Hy moet volgens Loubser vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Dieselfde metropolisielede het die pasiënt, wat hulle beweer het die taxi-drywer is, óók gearresteer en Sondagoggend vrygelaat.
Makhae het gesê hy is erg geskok oor hoe hardhandig en aggressief die metropolisielede teenoor hom was.
“Hulle het my soos ’n misdadiger behandel terwyl ek eenvoudig my pligte as ’n paramedikus probeer nakom het,” het Makhae gesê.
Louise Brits van die Tshwane-metropolisie het gesê ’n interne ondersoek is na die voorval begin.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld