Metro woedend oor geskeurde Bul-trui
2010-10-20 03:48
Pretoria – Die Tshwane-metropolisiebeamptes wat ‘n Blou Bul-rugbytrui opgeskeur het buite die hof tydens Jacobus “Bees” Roux se verskyning, sal vasgevat word weens hul gedrag.
Brig. Daniel Manganye, Tshwane se nuwe strategiese uitvoerende direkteur van gemeenskapsveiligheid, het die beamptes se gedrag Dinsdag in ‘n persverklaring as “onprofessioneel en ongedissiplineerd” beskryf.
Die beamptes het ’n Blou Bul-trui rondgegooi wat in repe gesny was. Hul het die hemp ook uitgehaal in die hof waar die Blou Bul-stut verskyn het weens die moord op hul kollega sers. Ntshimane Johannes Mogale (38).
Meeste van die sitplekke in die hof is deur metropolisiebeamptes volgepak en het veroorsaak dat sommige familielede tydens die verrigtinge moes staan.
Volgens Manganye sal beide voorvalle ondersoek word. Hy het ook ‘n geskrewe verskoning aan die Blou Bul-rugbyunie geskryf waarin hy om verskoning gevra het vir die gebeure.
“Die nodige stappe sal geneem word om te verhoed dat soortgelyke voorvalle nie weer sal plaasvind nie.”
Roux se saak is uitgestel tot 10 Desember vir verdere ondersoek. Hy is tans uit op R100 000 borgtog.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA