Metro-werkers ‘gyselaar’ gehou oor rekening
2010-01-29 09:26
Virginia Keppler
Pretoria - ’n Omgekrapte sakeman van Irene, Centurion, het vier werkers van die Tshwane-metroraad gister sowat ’n uur lank “as gyselaar” gehou nadat sy onderneming se krag afgesny is, al is die rekening betaal.
Willie Grobler (49), eienaar van die Echo 4x4-sentrum, het die werkers vasparkeer toe hulle die kragtoevoer kom herstel het. “Hulle het lekker geskrik, maar ek het hulle nie een keer gedreig nie,” het hy gesê.
Grobler het die werkers beveel om hul werkgewer te bel om uit te kom en te kom verduidelik hoekom sy krag afgesny is nadat hy sy lopende rekening van R39 000 voor die sperdatum betaal het. Hy het self ook met die werkgewer gepraat en aan hom gesê hy wil die R3 000 wat hy ’n dag en ’n half lank aan diesel vir sy kragopwekker bestee het, terughê.
“Ek het aan hom gesê ek wil nie ’n tjek hê nie, want ek weet hulle is bankrot en dat die tjek kan hop. Ek wil kontant hê.”
Die werkgewer het plegtig beloof om te kom, maar nooit opgedaag nie.
Die vier werknemers het die metropolisie intussen ontbied. Binne oomblikke het drie metropolisievoertuie met sowat 12 metropolisielede daar opgedaag.
“Die metropolisie het gesê as ek die ouens nie dadelik laat gaan nie, gaan hulle my toesluit. Toe laat gaan ek hulle maar.”
Een van die metropolisielede het aan Grobler gesê: “Ag, meneer, bly maar stil. Ons sit almal met dieselfde probleem.”
Grobler se kragfrustrasie kom al ’n lang pad. “Verlede jaar het ons vier weke lank sonder krag gesit...
“Toe kom ek gister (eergister) hier net om te sien hulle het my krag in die vroeë oggendure kom afsny. Ek moes daarna twee uur lank in ’n tou staan net om aan hulle te verduidelik dat daar mense is wat vir hulle werk wat nie kan lees dat my rekening betaal is nie.”
Grobler het gesê dit is omdat mense stilbly dat die raad “ons soos slawe behandel”. “Hulle swaai hul sterte vir ons terwyl hulle in hul blink motors ry. Ek gaan oor na plan B...Al moet ek my aan hul deure gaan vasketting totdat hulle na my luister. Laat hulle weer my krag afsny...” het hy gewaarsku.
Console Tleane, woordvoerder van Tshwane-gemeenskapsveiligheid, het gesê optrede soos dié van Grobler sal nie geduld word nie.
- Beeld