Metro-polisiehoof vrygespreek
2009-11-25 23:08
Johannesburg - Amon Kganyago, die metro-polisiehoof van binnelandse sake, is Woensdag in die Johannesburgse landdroshof vrygespreek nadat hy van verkragting aangekla is.
Die hof was nie daarvan oortuig dat hy die misdaad gepleeg het nie, het Mthunzi Mhaga, die woordvoerder van die nasionale staatsaanklaer gesê.
Kganyago is daarvan beskuldig dat hy in 2007 ‘n voormalige junior kollega in haar huis in Brixton verkrag het.
Die vrou het aan Sapa gesê sy is teleurgesteld oor die uitspraak en gaan appelleer teen sy vrystelling.
Sy het gesê Kganyago het na haar huis toe gekom om kameras, wat aan die metro-polisiedepartement behoort, te kom haal.
Sy was in haar nagrok toe sy die deur oopgemaak het. Hy het haar ‘n drukkie probeer gee, maar sy het geweier. Hy het daarna homself op haar afgedwing.
Kganyago het aan die hof vertel hy en die vrou het ‘n buite-egtelike verhouding gehad, maar dit het jare gelede tot ‘n einde geloop.
Volgens hom het hy wel na haar huis toe gegaan om die kameras te gaan haal, maar ontken dat hy haar verkrag het.
Sy het hom glo verlei.
Hulle het geslagsgemeenskap gehad voordat hy die volgende dag na Pretoria moes gaan waar hy die kameras benodig het.
-Sapa