Metro-lid sterf in botsing
2009-12-19 05:45
Johannesburg - 'n 27-jarige Tshwane-metropolisielid is dood in 'n trompop-botsing in Pretoria ná sy motor teen 'n bakkie gebots het.
Die ongeluk het Vrydagaand omstreeks 21:00 by die kruising van Hans Coverdale- en Boundary-laan naby East Lynne plaasgevind.
Console Tleane, 'n woordvoerder van gemeenskapsveiligheid, het gesê die beampte was alleen in sy VW Golf toe hy teen 'n Toyota-bakkie gebots het.
"Die konstabel is op slag dood en die bestuurder van die bakkie is in 'n kritieke toestand in die hospitaal."
Die konstabel was ongetroud en het geen kinders gehad nie. Hy het in Januarie by die metropolisie aangesluit.
– Sapa