Metro-beampte skiet koerantverkoper in die voet
2012-02-03 14:10
Johannesburg – ‘n Koerantverkoper in Johannesburg is deur ‘n polisiebeampte in die voet geskiet.
Die polisiebeampte het glo Donderdag omstreeks 11:40 in die Johannesburgse middestad op ‘n man geskiet wat in ‘n gesteelde motor weggejaag het, het The Star berig.
Kort voor die skietery het ‘n sekuriteitswag by die Easipark-parkeerterrein op Presidentstraat gesê twee mans in ‘n swart Citi Golf het by die kompleks ingery.
Sowat 10 minute later het ‘n man in ‘n wit Toyota Saloon deur die versperring by die betaalpunt gejaag en weggery.
‘n Metropolisiebeampte het die voorval gesien en het agter die motor aangejaag.
Toe die motor om ‘n draai gaan het die beampte losgebrand. ‘n Koeël het van die motor teruggespring en die koerantverkoper, James Mothobi, in die voet getref.
“Ek het net daar gestaan en vir die koerante gewag. Ek het nie eers die polisiemotor gesien nie, maar ek het die sirenes gehoor en toe die pyn in my voet gevoel,” het Mothobi aan die koerant gesê.
Die gesteelde motor, wat se agterwiel in die voorval beskadig is, is agtergelaat en die rower het weggehardloop.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA