Metro-beampte in hegtenis
2011-12-30 23:00
Johannesburg – Die Johannesburgse metropolisie het een van hulle lede in hegtenis geneem nadat hy omkoopgeld van 'n minibusbestuurder in Ophirton geëis het, het RSG Vrydag berig.
'n Woordvoerder, Wayne Minnaar, het gesê die verkeersbeampte het by 'n padblokkade diens gedoen toe hy op 'n taxi met 'n foutiewe handrem afgekom het.
Hy het na bewering die bestuurder vir R300 gevra, maar die man het slegs R120 by hom gehad.
Die bestuurder het die saak by die metropolisie se interne sake aangegee en na die padblokkade teruggekeer om die beampte uit te wys.
Hy is in hegtenis geneem en sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Johannesburg verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG