Met sy broek verwurg: 2 vas ná hul spog
2010-12-20 11:40
Secunda – ’n Plaaswerker en ’n vriend wat glo in ’n sjebien gespog het hoe hulle ’n bejaarde vermoor en ’n ander beroof het, is eergisternag deur die polisie aangekeer nadat iemand die polisie in kennis gestel het.
Die twee is aangekeer weens die moord op Tolstoi Schoeman (86) ’n plaasboer en sakeman van Badplaas, Mpumalanga.
Schoeman is Donderdag in die vroeë oggendure met sy eie sweetpakbroek in sy plaashuis verwurg.
Hy en sy vrou, Gudrun (65), is op die plaas Vygeboom in hul bed oorval.
Die aanvallers het Schoeman oorrompel, sy hande agter sy rug vasgebind, sy voete vasgemaak en hom verwurg.
Schoeman is toe saam met vuurwapens en geld wat die rowers gebuit het, agter in haar Honda Jazz geboender en na ’n kitsbank in Machadodorp geneem waar sy gedwing is om geld te trek.
Die moordenaars het toe met haar na Carolina gejaag.
Die motor het sowat 5 km buite Carolina op die Breyten-pad gerol.
Die booswigte het die beseerde Schoeman op die ongelukstoneel gelos en gevlug.
Volgens kapt. Pottie Potgieter van die Badplaas-polisie het die moordenaars Schoeman ontvoer en aangehou met die doel om soveel geld moontlik uit die Schoeman-egpaar se bankrekening te kan trek.
“Die bankkaart het ’n daaglikse limiet van R2 000 en ons vermoed die moordenaars wou Schoeman so lank moontlik lewend hou sodat sy oor ’n tydperk die geld uit haar bankrekening kon trek.
“Ons vermoed ook hulle het beplan om haar dan te vermoor.”
Die polisie het eergisternag omstreeks middernag twee verdagtes in ’n sjebien in Barberton vasgetrek nadat dié mans (tussen 19 en 23 jaar oud) tydens ’n drinkparty oor die moord gespog het.
Een verdagte het vir die Schoemans op die plaas gewerk.
Dit strook met die polisie se vermoede vroeër dat iemand wat die Schoemans goed geken het, by die plaasaanval betrokke is.
“Die moordenaars het deur die agterdeur by die huis ingekom en daar was geen tekens van ’n inbraak nie.
Hulle het presies geweet waar die motorsleutels van die versteek was,” het Potgieter gesê.
Die verdagtes verskyn Maandag in die landdroshof op Carolina.
- Volg Nuus24 op Twitter.