Met Mac volg Valke protokol
2011-11-27 09:32
Johannesburg – Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, is in statuur op dieselfde vlak as wyle oudpres. PW Botha en daarom ondersoek die Valke sy klagte teen die Mail&Guardian (M&G).
Dít was Vrydag die verduideliking van kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, aan Rapport oor waarom juis húlle Maharaj se klagte teen dié koerant en twee van sy joernaliste ondersoek.
Intussen het Maharaj Vrydag in ’n verklaring geweier om oor die korrupsiebeweringe oor sy kop kommentaar te lewer, maar die “hernieude” belangstelling in hom as ’n veldtog teen pres. Jacob Zuma se administrasie afgemaak.
Polela het gereageer nadat Nic Dawes, redakteur van M&G, Vrydag in die koerant se hoofartikel geskryf het die Valke se betrokkenheid by die ondersoek is niks anders nie “as Maharaj wat nou alle staatsinstellings tot sy beskikking gebruik om die koerant en sy twee joernaliste te probeer intimideer, om jag te maak op ons bronne, om uit te vind wat ons presies weet en om ons vas te gooi met regsprosesse wat ons aandag van ons werk afhaal”.
Polela het dit as “onsin” afgemaak.
“Dit word lankal so in die polisie gedoen. Mens kan nie ’n konstabel stuur om met ’n president of sy woordvoerder te praat nie.
“Ek onthou nog die voorbeeld van PW Botha wat destyds voor die Waarheids-en-versoeningskommissie gedaag is en ’n baie senior polisiebeampte toe gestuur is om met hom daaroor te praat.
“So, ons volg net protokol deur ons betrokkenheid by die Maharaj-ondersoek. Dit is nie iets wat deur die Valke in plek gestel is nie.”
Die ondersoek teen die koerant en sy twee joernaliste kom nadat Maharaj verlede Saterdag klagte by die polisie ingedien het nadat M&G verlede Vrydag ’n berig op sy voorblad gepubliseer het waarvan die grootste dele, om strafregtelike vervolging te vermy, met swart blokke verberg is.
Dié berig sou glo bewys hoe Maharaj destyds vir die nou ontbinde Skerpioene oor sy geldsake in ’n spesiale ondersoek gelieg het.
Maharaj het Vrydag gesê dit is nou die onderwerp van ’n polisie-ondersoek.
Dit blyk nou dat die ware teiken van dié hernieude belangstelling “nie Mac Maharaj is nie, maar eerder pres. Zuma en sy administrasie”, het Maharaj op vrae van M&G geantwoord.
Intussen het M&G Vrydag berig dat adv. Menzi Simelane, nasionale direkteur van openbare vervolging, eerskomende Vrydag sal besluit of hulle Maharaj se getuienis in die destydse spesiale ondersoek mag publiseer.
Ingevolge wetgewing kan net die nasionale direkteur toestemming daarvoor gee en is dit ’n misdaad om dit sonder dié toestemming openbaar te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport