Mense vir oulaas gewaarsku oor 'wegraping'
2011-05-21 08:07
Kaapstad - Plaaslike ondersteuners van die Amerikaanse eindtyd-voorspellers wat glo 21 Mei 2011 is die begin van die einde van die wêreld, het vir Saterdag volbladadvertensies in koerante bespreek sodat mense tot bekering kan kom.
Family Radio glo ’n reuse-aardbewing gaan die aarde vandag tref, waarna 153 dae van “absolute chaos” sal heers.
Op 21 Oktober sal die heelal deur vuur vernietig word.
“Die tydlyn kan baie ingewikkeld wees, maar as die Here jou oë oopmaak, is hy baie spesifiek oor tye in die Bybel,” het Olivia Smith, ’n sendeling wat die oortuigings van ’n Amerikaanse radiostasie aanhang, Vrydag gesê.
Terwyl die somme van die Amerikaanse president van Family Radio, Harold Camping, aandui dat vandag D-dag vir die aanbreek van die eindtyd is, het sy Suid-Afrikaanse ondersteuners besluit om vandag volblad-advertensies in koerante te plaas om mense te waarsku.
Aangesien koerante van vroegdag af versprei word, hoop hulle mense sal die advertensies lees en tot bekering kom. “Ons kan nie die presiese tyd voorspel nie,” het Smith gesê.
Johannes Coetzee van Nelspruit, een van die leiersfigure van Family Radio in Suid-Afrika, glo blykbaar nie aan ’n skuldmakery nie en het die advertensies sommer kontant betaal en sy kantoorruimte in Nelspruit net tot vandag gehuur.
Kleiner advertensies is ook Vrydag in koerante geplaas.
Smith was gister glad nie te vinde om die moontlikheid te oorweeg dat die voorspellings nie bewaarheid sal word nie. “Daar is te veel goed in die Bybel wat die datum bevestig. Die grafte sal oopgegooi word en diegene wat reeds gesterf het, sal weggeraap word.”
Ds. Hendrik Scott van die NG Kerk Tamboerskloof het egter gesê hy dink ons sal almal Sondag “nog hier wees”.
“Die Skrif stel dit duidelik ons sal nie die uur en die dag weet nie. Baie mense het al die einde van die wêreld voorspel en hulle het een ding met mekaar gemeen – hulle was almal verkeerd.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger