‘Mense moet weet oor ET-moordsaak’
2010-04-14 10:00
Johannesburg – As die media uit die moordsaak van die ontslape AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, gehou word kan rassehaat moontlik aangewakker word.
Só het etv se prokureur, Dan Rosengarten, Woensdag buite die landdroshof in Ventersdorp gewaarsku.
“Mense het die reg om te weet wat aangaan met die verhoor, anders sal dit net die bestaande rassehaat aanwakker,” het hy aan Sapa gesê.
“Hierdie saak het baie internasionale aandag en spekulasie gelok,” het hy gesê kort voordat die hof moes besluit of die media die verhoor van Terre’Blanche se vermeende moordenaars mag bywoon. Die media word uit die hof gehou omdat een van die verdagtes ‘n minderjarige is.
Terre’Blanche is op 3 April op sy plaas sowat 10km buite Ventersdorp vermoor. Twee van sy plaaswerkers het hulself na afloop van die voorval aan die polisie oorhandig.
Beide verdagtes sal Woensdag vir ‘n tweede keer in Ventersdorp in die hof verskyn.
-Sapa