'Mengsel' dwelms in urienmonsters gevind
2011-12-01 13:00
Johannesburg – 'n "Mengsel" dwelms is in Molemo 'Jub Jub' Maarohanye en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala se urienmonsters gevind, het die Protea-landdroshof Donderdag gehoor.
Thembela Mahlati, hoofapteker by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto, het gesê sy is deur die polisie gevra om die uitslae van Maarohanye en Tshabalala se urienmonsters te toets.
Mahlati het gesê dit ondermeer kokaïne, morfien, parasetamol en kafeïne bevat.
Haar rol was om vas te stel watter uitwerking die dwelms sal hê as dit gelyktydig deur 'n persoon geneem word. Sy het gesê as 'n apteker sou sy nooit die dwelms saam gee nie, omdat dit die liggaam verwar. Sy het gesê sommige van die dwelms veroorsaak opgewondenheid, terwyl ander die liggaam laat ontspan.
Onder kruisverhoor is Mahlati gekritiseer omdat sy nie die hoeveelhede van die dwelms, waarop haar bevindings gebaseer is, verskaf het nie.
Mahlati het erken dat sy nie weet hoeveel van die dwelms ingeneem is nie.
Die verdediging het toe gesê daar kan nie bevestig word of die dwelms wat in die urienmonsters gevind is, genoeg was om daardie uitwerking op die liggaam te hê nie.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op vier aanklagte moord nadat hulle glo verlede jaar teen 'n groep skoolkinders, wat op pad huis toe was, gebots het.
Twee van die kinders het ernstige beserings, insluitend breinskade, opgedoen.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op 10 aanklagte, insluitend moord en bestuur onder die invloed van dwelms.
Die verhoor duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA