Melkboer oorval met aanbiedinge
2010-10-07 07:17
Pretoria - Die melkboer van die Verena-omgewing naby Emalahleni (Witbank) wat elke tweede dag 3000 liter melk in die grond stort omdat hy dit nie verkoop kan kry nie, het Woensdag nuwe moed gekry.
Nadat Volksblad oor sy dilemma berig het, is Tom Engelbrecht (72) van die plaas Grootvallei oorval met oproepe van mense en maatskappye wat hom wil help.
“Ek sal oor drie dae weet of ’n Pretoriase melkmaatskappy al my melk gaan koop,” het Engelbrecht Woensdagmiddag gesê.
“Mense van oor die land heen het my gebel.
“Ek het ook 12 van my koeie verkoop. ’n Ander ou wag net vir toestemming van sy bank om 28 te koop. Dit sal al baie help, want dan is my koste aansienlik laer,” het Engelbrecht gesê.
Dit kos hom sowat R57 000 per maand om sy 150 koeie te voer. Engelbrecht is reeds die afgelope 50 jaar ’n melkboer op dieselfde plaas.
Onder die mense wat wou help, tel welsynsorganisasies wat die melk wil koop om onder behoeftige mense te versprei, ’n restaurantgroep, ’n melkplaas wat bereid is om van sy koeie te huur, en ’n entrepeneur wat maatskappye wil betrek en ’n sakeplan vir Engelbrecht wil help uitwerk.
Ander weer het gebel en voorgestel Engelbrecht moet die melk gebruik om kaas te maak, of hy moet vir hom varke koop en die varke dan met die melk voer.
Ander het bloot gesê hulle “bid vir oom Tom”.
“Dis nie so eenvoudig om te sê ‘maak kaas’ nie,” het Engelbrecht gesê.
“Die ondersteuning wat ek ontvang het, is wonderlik.
“Al wat ek kan sê, is dankie, baie, baie dankie.”
- Volksblad