Mej. Gay Kuruman vermoor
2012-06-13 13:40
Kaapstad – ‘n Drie-en-twintig-jarige man van Kuruman in die Noord-Kaap is verlede Vrydag vermoor, na bewering omdat hy gay was.
Thapelo Makutle is Vrydag by sy werkplek in die John Taolo Gaetsewe-distrik aangeval, het die nie-regeringsorganisasie Legbo Noord-Kaap volgens MambaOnline gesê.
Makutle het blykbaar in ‘n argument met twee heteroseksuele mans betrokke geraak oor sy seksualiteit en die aanvallers het hom na bewering gevolg na die kamer waar hy gebly het.
Hy is Saterdagoggend vroeg in die kamer gevind met ‘n wond aan sy nek, het die polisie gesê.
Makutle, wat homself as beide gay en transgender geïdentifiseer het, was ‘n vrywilliger vir Legbo Noord-Kaap, wat ondersteuning bied vir LGBTI-persone in landelike gemeenskappe.
Hy is onlangs aangewys as Mej. Gay Kuruman en het ook deelgeneem aan die Kimberley Out In Africa Gay en Lesbiër Fees.
“Dit is so hartseer. Ek kan nie die pyn beskryf wat ons nou voel nie,” het Shaine Griqua, direkteur van Legbo Noord-Kaap, aan MambaOnline gesê. “Ons het ‘n jong, talentvolle, gay man verloor wat oop was oor wie hy was. Die laaste paar dae was soos ‘n donker wolk.”
Griqua het gesê haatmisdade is weer aan die toeneem in die provinsie. Hy het gesê ‘n lesbiër is onlangs by ‘n kroeg aangeval, maar het gekies om nie klagte in te dien nie aangesien sy nie haar familie betrokke wou hê nie.
Cosatu in die Noord-Kaap het die moord veroordeel en die provinsiale regering gevra om ‘n spitsberaad oor haatmisdade te hou.
Makutle se begrafnis sal Saterdag in Kuruman plaasvind.
- ‘n Vroeëre weergawe van hierdie storie het gesê die slagoffer is onthoof, maar die polisie sê dit was nie die geval nie. Die polisie sê slegs dat hy ‘n wond aan sy nek gehad het.
– Volg Nuus24 op Twitter