Meisie veg vir lewe ná ongeluk
2011-08-15 08:05
Reitz – ’n Jong meisie van dié dorp veg vir haar lewe in die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein nadat sy ernstige kopbeserings in ’n motorongeluk opgedoen het.
Suretha Lourens (18) was Saterdagoggend vroeg van die dorp op pad na haar ouers se plaas, Oranjefontein, toe die ongeluk plaasgevind het.
Sy het hier gebly en gewerk.
Lourens, wat alleen in die motor was, het vermoedelik op die grondpad beheer oor die voertuig verloor.
Die motor, ’n wit Mazda 2, het verskeie kere omgeslaan en sy is uit die voertuig geslinger.
Sy was Sondag in ’n kritieke, maar stabiele toestand in die multi-waakeenheid van die hospitaal.
Dit het sowat 14 uur geneem voordat sy in die teater kon uitkom om die bloeding aan die linkerkant van haar brein te dreineer. Sy het weens die bloeding erge drukking op die brein gehad.
Lourens se moedige ma, Retha, sê haar dogter, Dolla, soos almal haar ken, dra áltyd haar sitplekgordel.
“As sy maar net haar gordel aangehad het...Ons weet nog nie presies wat die omstandighede was nie. Ons bid nou maar net dat Dolla hierdeur sal kom. Sy is ’n vegter.”
Haar pa, Marius, ’n bekende boer in die distrik, het saam met sy vrou na Bloemfontein gereis om by hul dogter te kon wees.
’n Buurman, Pieter Lubbe, het omstreeks 06:20 eerste op die ongelukstoneel afgekom en haar in die veld gekry.
Sy is eers deur die ER24-nooddiens na die Mediclinic Bethlehem gebring, maar moes weens die erge kopbesering en bloeding aan die linkerkant van haar brein by ’n neurochirurg uitkom.
Die linkerkant van haar brein het die ergste impak van die slag gevat. ’n Pypie moes hier in haar skedel gesit word om die bloed te dreineer.
Sy het geen ander breuke opgedoen het nie.
Sy is per ambulans na Life-Rosepark in Bloemfontein vervoer omdat geen mediese helikopter in daardie stadium beskikbaar was nie.
Dr. Pierre Lewis, die neurochirurg wat haar omstreeks 16:00 in Bloemfontein geopereer het, het gesê dit was sleg dat sy so lank ná die ongeluk eers in die teater uitgekom het.
Lourens was voor die operasie aan die regterkant van haar lyf verlam.
Lewis het Sondag gesê Lourens gaan 72 uur onder verdowing gehou word vir die brein om te rus sodat die swelling kan sak.
In dié stadium is dit onmoontlik om te sê wat gaan gebeur en of daar permanente skade gaan wees.
“Sy is kritiek, maar stabiel. Ons het medies alles gedoen wat ons kon. Nou moet sy die volgende drie dae self veg.”
* Lourens se broer, MJ, is Volksblad se webredakteur in Bloemfontein.
* Volksblad bedank Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal, vir haar bystand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad