Meisie swanger op 13, trou op 14
2011-02-12 22:31
Kaapstad – Die Wes-Kaapse regering ondersoek die huwelik van 'n meisie wat op 13 swanger geword en op haar 14de verjaardag met die middeljarige pa van haar kind getrou het.
Die meisie en die man is in November 2009 volgens die Moslem-geloof getrou. Die baba is drie maande later gebore.
Sy is nou terug skool toe, en dít het die situasie onder die aandag van owerhede gebring.
Die Women’s Legal Centre (WLC) is egter bekommerd dat die wetsontwerp wat Moslem-huwelike erken nie die minimum ouderdom waarop meisies kan trou, bekend maak nie.
Jennifer Williams, direkteur van die WLC het gesê dit is 'n kriminele oortreding om konsensuele seks met 'n kind tussen 12 en 16 te hê.
Die ouers van die 15-jarige meisie was verras en kwaad toe hulle om kommentaar genader is.
"Dit is nie iets waarvoor daar beplan word nie. Dit is nie dat jy wil hê jou kind moet vroeg trou nie, maar die geloof is duidelik: wanneer 'n kind aanjaag, is trou die enigste manier om dinge reg te stel".
Paddy Attwell, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig dat die meisie volgens die Moslem-geloof getroud en 'n leerder aan 'n skool in Delft is.
"Die departement se bekommernis is die beste belang van die leerder. Ons sal nie teen haar diskrimineer omdat sy getroud is nie."
Die saak is na die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling verwys.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter