Meisie se vinger geamputeer ná kobra haar pik
2011-12-29 15:33
Johannesburg – Die vyfjarige meisie wat deur ‘n Mosambiekse kobra gepik is se vinger sal geamputeer word en ‘n gedeelte van 'n spier in haar arm sal verwyder word, het The Star Donderdag berig.
Mikayla Robbertse, van Lephalale in Limpopo, het Woensdag ‘n operasie ondergaan, het haar ouma, Charmaine Robbertse, aan die koerant gesê.
“Hulle (dokters) moes ‘n spier uit haar hand en haar arm tot by die elmboog, verwyder; hulle het gesê die gif het ‘n tonnel deur die spier gevreet.”
Haar middelvinger sal Saterdag geamputeer word.
“Hulle kon dit net nie red nie,” het Robbertse gesê.
Volgens Beeld word sy pyndoders gegee en sal sy elke vier dae vir twee maande lank operasies moet ondergaan om haar vel te red.
Robbertse is ‘n week voor Kersfees op die hand en elmboog gepik. Die slang was in haar bed op haar ouma en oupa se plaas in Lephalale.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA