Meisie se lyk in berugte veld gekry
2013-02-13 10:29
Kaapstad – Drie lyke is die afgelope ses maande in ‘n veld in Atlantis, Kaapstad, gevind, het die Cape Times berig.
Jo-anne van Schalkwyk (18) is die laaste oorledene wat in dié veld gevind is. ‘n Verbyganger het vroeër die week in Beacon Hill op haar lyk afgekom.
“Sy het nog al haar klere aangehad... Daar was geen teken wat aangedui het dat sy verkrag is nie, maar ons moet wag totdat die uitslae van die nadoodse ondersoek uitgereik is,” het Cyril Dicks, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.
‘n Swanger vrou se lyk is in Augustus in dieselfde gebied gevind. ‘n Ander lyk is vroeër vandeesmaand hier gevind.
Niemand is tot dusver in verband met die misdade in hegtenis geneem nie.
Van Schalkwyk se stiefma, Shirley April, het aan die koerant gesê haar stiefdogter het die huis op die ouderdom van 16 verlaat. Sy het ook dwelms gebruik.
“Sy was saam met ‘n vriendin toe ons haar laas gesien het. Ons hoop die meisie weet iets, maar ons kan haar nêrens vind nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA