Meisie in gr.1 wreed seksueel aangerand
2010-10-29 09:22
Bethulie – Die wrede seksuele aanranding en verkragting van ’n 7-jarige skoolmeisie, na bewering deur twee gr.8-meisies, het die gemeenskap van Bethulie “tot stilstand geruk.”
’n Slot waarmee die skoolkoshuis se kasdeure gesluit word, is na bewering in die slagoffer opgedruk.
Die voorval het verlede Donderdagaand in die meisieskoshuis van die Gekombineerde Skool Pellissier op dié dorp gebeur.
Volksblad het betroubaar verneem die slagoffer het ’n ouer medeleerling daarvan vertel, wat toe die koshuismoeder in kennis gestel het.
Kapt. Rulene Kühn, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Sy sê ’n klag van verkragting is aanhangig gemaak.
Isaac Ntshauba, woordvoerder van die onderwysdepartement, het ook die voorval bevestig.
Volksblad het reeds Woensdagmiddag ’n navraag oor die voorval aan dié departement gerig. Sover is dit onbeantwoord.
Ntshauba sê die departement is van die voorval in kennis gestel, maar kan eers teen vandag verdere kommentaar lewer omdat daar op volledige verslae gewag word.
’n Betroubare bron het wel bevestig dat die twee verdagtes summier uit die koshuis geskors is.
’n Tugverhoor word ook volgende week by die skool gehou.
“Intussen kry die slagoffer deeglike berading by ’n maatskaplike werker. Sy gaan steeds skool.”
Die twee verdagtes kry ook berading.
“Die ouers van die slagoffer en die verdagtes gee hul volle samewerking in die saak.”
Volksblad het verneem een van die verdagtes is glo voorheen gemolesteer.
’n Ouer wat verkies om anoniem te bly, sê die hele gemeenskap van Bethulie is erg geskok deur die voorval.
“Die gebeure is absoluut grusaam en skokkend. Die hele gemeenskap is tot stilstand geruk.”
Sy sê dit is baie sleg dat so iets gebeur, omdat dit die enigste moont- like skool is waar mense in die dorp hul kinders kan plaas.
“Ek gaan nie my kinders in ’n koshuis honderde kilometers van ons af sit nie. Dit is ons enigste skool.”
- Volksblad