Meisie gegryp: Man kry nie borg
2011-11-15 10:47
Johannesburg – Die man wat glo probeer het om ’n 18-jarige meisie buite ’n skool in Roodepoort te ontvoer, is Dinsdagoggend borgtog in die Roodepoortse landdroshof geweier, berig Beeld.
Landdros J. Baloyi het beslis dat Adams se vrylating tot groot openbare ontevredenheid sou lei. Baloyi het verskeie kere verwys na die trauma wat die kinders reeds deur is met die ontvoering en moord van Louise de Waal - 'n leerling aan dieselfde skool.
Mohammed Adams (21) word van poging tot menseroof aangekla nadat hy Amanda Schmidt glo op 18 Oktober buite die Hoërskool Die Burger se hoofhek met ’n skroewedraaier gedreig en in sy voertuig probeer dwing het.
Dit het gebeur enkele dae nadat de Waal (16), daar naby ontvoer en later verkrag en vermoor is.
Ao. Boitumelo Mareko, ondersoekbeampte, het verlede week in Adams se borgtogaansoek getuig ’n veiligheidswag het gesien hoe Amanda se ouers haar die dag om 05:45 by die skool aflaai.
Die wag het vir hom gesê Adams het ’n kort rukkie daarna in ’n silwerkleurige motor opgedaag. Hy het uitgeklim, die kattebak oopgemaak, ’n skroewedraaier uitgehaal en die meisie gedreig, het die hof gehoor.
Volgens Mareko het Adams haar aan haar elmboog en trui na sy motor getrek en sy het begin skree.
Die veiligheidswag het die twee genader en op Adams geskree, wat in sy motor geklim en weggery het, het Mareko getuig.
’n Beskrywing van hom, sy motor en die nommerplaat is aan die polisie gegee.
Toe die polisie Adams vind en ’n onderhoud met hom voer, het hy “erken hy was dié tyd by die skool”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld